AFRIKAANS     ENGLISH

Ligging

Rooderandt lê in die voetheuwels van die Swartberge en kyk uit oor die pragtige Schoemanshoekvallei, die hartjie van Oudtshoorn se toeristegebied. Die afstande na Oudtshoorn se grootste toeriste-trekpleisters is soos volg:

  • Arbeidsgenot: 16 km
  • Buffelsdrift Wildplaas: 5 km
  • Cango Wildlife: 10 km
  • CP Nel Museum: 15 km
  • Kango Volstruisplaas: 500 meter
  • Kangogrotte: 19 km
  • Karusa Wynproe: 1 km
  • Rust-en-Vrede Waterval: 35 km
  • Swartbergpas: 30 km
  • Wilgewandel Kameelritte: 17 km

Omgewing

Rooderandt se tuin is - soos die gees van die plek - eg inheems sonder om puristies of pretensieus te wees. Die terrasse is besaai met egte Karooplante: spekbos, klapperbos en botterboom, maar af en toe kom jy ´n vrugteboomlaning of ´n laventelbeddinkie teë. Hier en daar word jy verras deur ´n onverwagse oudheid: ´n witgekalkte bakoond met sy Welcome Dover-gietysterdeur, ´n outydse streepsak-weegskaal of ´n bankskroef.

Loop jy hoër op teen die rante, bevind jy jou tussen plakkies, vygies en noem-noem, wat tipies is van die sukkulente karoo plantegroeistreek waarin Oudtshoorn val. Rooderandt spog ook met ´n verskeidenheid kaktusse.

Die tuin is ´n lushof vir voëls, en die geduldige voëlkyker kan verwag om onder meer janfrederikke, kokkewiete, naguiltjies, suikerbekkies, jangroentjies, kraalogies en tiptolle te sien.

As jy gelukkig is, bespied jy dalk selfs ´n witkruisarend, of die ontwykende visarend wat gereeld teen sonsak roep.

Omtrent Ons | Akkommodasie | Etes | Ligging | Erfenis| Kontak Ons


Copyright © 2017  ::  Rooderandt  •  Site by:  WebWorX